Friday 9 July 2021

Kameel Stoepstorie: Inry, Spooktrein en die Kooperasie

 

Dit was 'n ware fees om die Inry op Vryburg te besoek. Pa het die Stellalander dopgehou vir watter fliek wys in die inry. Ons moes 50km grondpad al langs die spoor ry om Drive-in toe te gaan. Ons was almal gespit en gepolish teen 15h30. Met Pa-Gerald agter die stuur is die motorkar se neus is in die rigting van Vryburg gedruk. Daar was 'n stof streep soos wat ons om die draai by Devondale gegaan het. Wanneer ons Vryburg insleep het. het ons in die ry by die inry op die Schweizer pad ingeval. Wiel vir wiel het ons nader aan die hek gerol. 

Hier moet ek myself in die rede val. Ons kon nooit verstaan dat 'n boer uit die distrik nooit in die tou gery het nie, maar altyd voor gaan indruk. Soos Pa sou sê: Hulle dink hulle is important. 

Party keer moes ons huis toe ry want die inry was vol. Dan het ons darem 'n dubble thick lime milkshake by die Waldorf Cafe gedrink en weer die pad terug Kameel toe aan gedruf. 

Pa het vertel van die spook van Devondale wat die tafeldoek onder die koppies uitgepluk het en bo-oor gegooi het. Van die bakleiery in die buitekamer en my oupa wat amper die huis weggeskiet het. 

Ma het vertel van die fosfor ligte op Langverwag en haar kinderdae op die plaas. 

Natuurlik was daar ook 'n spooktrein. 

Die Spooktrein se lig het ons begin sien net nadat ons die draai by Devondale weer terug Kameel toe gevat het. Die pad loop se reg langs die treinspoor. Die trein lig het ons van vêr gesien, maar dit het nooit nader gekom nie. Daar is vertelings dat jy die vibrasie op die spore kon voel, maar die trein het nooit sy eind-bestemming bereik nie, en dan net so poef verdwyn. Dit was natuurlik ook 'n manier om ons wakker te hou tot by die huis anders moet ons bed toe gedra word. 

Nou hoe kom ek by die Kooperasie? 

Dit was een aand toe die Finchams terugkom van die Drive-in. Die Spooktrein was op sy pos. Die lig nie flouer geword soos voorheen nie, inteendeel hoe nader ons aan Kameel gekom het, hoe helderder het die lig geword. Amper op Kameel het Ma opgemerk dat sy 'n brand ruik. Nou Ma-Flos kon 'n vuur ruik lank voordat jy die rook gesien het. 

Skielik het Pa geskree: Die kooperasie brand.. 

Inderdaad Suid-Wes kooperasie was aan die brand. 

Mielies was in netjiese hope gepak, daar was nog nie silo's nie. Hierdie hope het aan die brand geslaan en binne oomblike was dit in ligte laaie. 

Die boere het kom help om die vlamme te blus, maar dit het aanhou smeul.

Die volgende oggend het Pa-Gerald, Oom Willie en Oom Joppie die mielies begin wegry na die kamp waar Kameel Rust en Vrede vandag is. Dit was chaos. Almal het hul bes probeer om die mielies te red, maar soos altyd met 'n vuur was die skade groot. 





Tot volgende keer 
Sandra 

No comments:

Post a Comment