Saturday 13 January 2024

Kameel Stoepstorie: Ma Floss se Vrugtekoek

 

Ma Floss op haar troudag

Hierdie resep het Ma Floss, as jong getroude vrou, by ‘n baker op Mafeking gekry. Die bakery was Dick’s Bakery en was in Stationweg. Ma en Pa het in Carrington Road gebly.  

Elke Oktobermaand het Ma hierdie resep uitgehaal en dan was dit vrugtekoek tyd. 


Die vrugtekoek het  'n familie tradisie geword. 

Die resep is aangepas by metrieke mates. 


Die droeëvrugte is twee dae voordat die koek gebak word, voorberei. In daardie dae moes die vrugte gewas word, die rosyne ontpit word en die dadels ontpit word. Dan is die vrugte op 'n skoon doek op ‘n sifdraad uitgegooi om droog te word. Daarna is die rosyne en dadels gesniper. Daarna is die meeste suiker van die verskuikerde skil afgekrap en is dan fyn gesny. Die kersies word deur gesny, die groenvye word grof gekap en die gemmer word ook fyn gesny. Die neute word gekap. 


Die vrugte is die aand voordat die koek gebak word gemeng in 'n skottel. Brandewyn is daaroor gegooi en die vrugte is dan bedek 'n deksel of ‘n bord. Die vrugte mengsel is dan geoornag.  


Vrugte 

1 lb rosyne;  1 lb sultans;   1 lb korente;   ½ lb dadels ; ½ lb versuikerde skil; ¼ lb kersies;  ½ lb groenvye;  ½ lb heel ingelegde gemmer; ½ kop brandewyn;  1 kop van 1 lb suiker en 'n ½ lb neute



Gebruik 1 kop suiker van die koek se bestanddele en verhit dit in ‘n pan tot dit gesmelt en ligbruin van kleur is.  Moet dit nie laat brand nie want dan sal dit b itter wees.  Voeg ¾ kop kookwater daarby en roer tot alles smelt is. 

Laat dit goed koud word om later te gebruik. 


Deeg

1 lb meel;  1½ teel fyn naeltjies;  ½ teel fyn gemmer;  1 teel sout; ½ kaneel 

1 lb botter;  1 lb suiker – 1 kop wat reeds gebruik is;  

10 eiers 

1 teel koeksoda;  2 eet appelkooskonfyt;  2 eet kitskoffie;


Koekpan

Voer die koekpan met drie lae bruinpapier en een lag botterpapier uit. 

Sny ook 3 stroke bruinpapier en een botter papier 1 duim wyer as die diepte van die pan en maak met ‘n tou om die koekpan vas.

Smeer die botterpapier met vet en voer die kante en boom van die pan uit.  


Metode

Sif die droë bestanddele saam, behalwe die koeksoda en die suiker. 

Klits die botter met ‘n houtlepel en voeg die suiker geleidelik by. Klits tot romerig is. 

Klits die eiers goed en voeg dit bietjie-bietjie by. Meng goed na elke byvoeging. Voeg ‘n bietjie van die meelmengsel ook by sodra die mengsel van botter en eier te loperig word, sodat dit nie kan skei nie. 

As al die eiers en meelmengsel met die botter en suiker gemeng is, voeg koue karamelstroop by.

Voeg die vrugte waaroor die Brandewyn gegiet is, by. 

Los die koeksode in ‘n bietjie warm, sterk koffie (omtrent 1 eetlepel), voeg konfyt by en voeg by die mengsel 

Voeg die neute by en meng alles goed. 

Die beslag moet styf genoeg wees om in stukke van die 

Voeg die neute by en meng alles goed. Die beslag moet styf genoeg wees om in stukke van die lepel af te val. As dit te slap is, sal die vrugte afsak en as dit te styf is, sal die koek bars. 



Skep die deeg in die uitgevoerde koekpan en druk die mensel na die kante van die vorm om effens ‘n holte in die middle te maak en so te voorkom dat die koek nie in die middle te veel oprys nie. 

Bak 4 – 5 uur land in ‘n stadige oond by 300ºF.  

Laat die koek ryp word vir ongeveer ‘n maand of langer in ‘n digte blik op ‘n koel plek. 

Sprinkel met ‘n bietjie brandewyn tussen deur.  



Tot 'n volgende keer 
Sandra 



No comments:

Post a Comment