Die spoorlyn tussen Vryburg en Mafeking
is eers in 1894 gebou, ná Stellaland en Goosen nie meer bestaan het nie, Cecil
John Rhodes, het toentertyd reeds ‘n droom gehad om ’n spoorlyn van die Kaap na
Cairo te bou, en hy wou hê dat dit deur die area moes loop want hy het die De
Beers Diamantmynmaatskappy gestig en wou ‘n treinroete na die noorde laat loop
sonder om deur die ZAR se grondgebied te gaan.
Liewe Ma – Florence of soos ons haar
geken het as Floss het 5 huise langs die spoorlyn op Kameel besit. My Pa –
Gerald het die huise op 9 Maart 1999 gekoop van die destydse Suid-Afrikaanse
Spoorweë en Hawens.
Kameelstasie was dus deel van die Kaap
na Cairo projek en is in 1894 op my groot-ouers se plaas Kameelbult gebou. In
1999 is my Pa genader om die huise terug te koop en die titelakte nr T796/1999
is geregistreer op Florence se naam.
Die Huise langs die spore op Kameel |
Kameel is een van daardie klein dorpies op die R377. Dit was eens ‘n besige spoorlyn wat graan en reisigers vervoer het. Daar is ‘n laerskool en twee kooperasies waar jy saam met die boere van die omgewing kan koffie drink en die weer bespreek. Kameel Rust en Vrede gaste akkommodasie is naby die ou Kameel treinstasie geleë. Ongelukkig is die ou stasie gebou gesloop. Tot jou verbasing sal jy Wilrick Kontrei winkel met ‘n bottelstoor ook hier kry. Hier kan jy die nodige proviant kry. Met sekerheid kan ons hul vetkoek aanbeveel en saam met ‘n koue Lager uit die bottelstoor is dit ‘n wenner.
Ma-Floss op die stoep by Wilrick Kontreiwinkel. Die ou posbus is nog deel van die geskiedenis van Kameel. |
‘n Stukkie geskiedenis van Kameelstasie
wat ek by Jean, my Pa se suster, gekry het. Sy het by die stasie gewerk vanaf
1953.
Oor die jare het die soutpanne by Stella bekende ontdekkingsreisigers en sendeling as besoekers, soos David Livingston en Robert Moffat, gehad. Groot-Oupa Alfred Ernest het op Lonely Hill gebly. Lonely Hill se huis is vandag nog daar – natuurlik erg verwaarloos so op die kant van die soutpanne. Sout is aangery, met donkie-waens na Kameel waar dit dan op die spoortrokke gelaai is. Daardie jare was dit ‘n hout-en-pale gebou Vandag is die soutpanne nie meer produktief nie.
Oor die jare het die soutpanne by Stella bekende ontdekkingsreisigers en sendeling as besoekers, soos David Livingston en Robert Moffat, gehad. Groot-Oupa Alfred Ernest het op Lonely Hill gebly. Lonely Hill se huis is vandag nog daar – natuurlik erg verwaarloos so op die kant van die soutpanne. Sout is aangery, met donkie-waens na Kameel waar dit dan op die spoortrokke gelaai is. Daardie jare was dit ‘n hout-en-pale gebou Vandag is die soutpanne nie meer produktief nie.
Hennie en Sandra by die Soutpanne |
Daar was soms tot 20 busse wat
personeel en goedere vervoer het. Die busse het die roomkanne van die plase
opgelaai en dit is dan na Kameel gebring waar dit, per spoor, na Vryburg
Romerye vervoer is. Die “dubble loaves” was busse wat passasiers en goedere
vervoer het. Daar was sitplekke aan die voorkant vir passasiers en dan agter
die afskorting is goedere gelaai en na die stasie gebring. Die room en eiers is
in die swartroomkamer geberg totdat die trien dit na Vryburg vervoer het. Dit
was ‘n soort koelkamer.
Simon wat vir elke okkasie ‘n spesiale
uniform aangetrek het. Hy was soort van die “meeter and greeter” van alles wat
op- of afgelaai moes word.
Die vuuremmers het aan hake aan die
stoepkant van die stasiegebou gehang. Dit was gevul was met sand.
Oom Kleintjie Kleynhans en sy vrou Tant
Gertie was van die eerste stasievoorman. Hulle het in die huis waar Ma Floss
gewoon het, hulle intrek geneem. Die huis is in 1940 gebou. Hul Boarder Kollie het oral met hul saam
gegaan. Tant Gertie, of soos sy by die laerskool bekend was, tannie Klein, was
een van die eerste onderwysers by die laerskool op Kameel.
Die Stasiemeester huis. Vandag word die stasiemeester huis benut as 'n self-sorg eenheid onder die naam: De Oude Huize at Kameel. Lees meer hieroor op die blogpos hier https://deoudehuize.blogspot.com/2020/01/de-oude-huize-kameel.html |
Daar is tuine om die stasiegebou gemaak
en elke jaar was daar kompetisies tussen die stasies om te bepaal wie se tuin
die mooiste was, maar dit was nie altyd net werk nie. Almal het na die
jaarlikse vuurbol gooi uitgesien. Dit was die tyd wanneer oud en jonk die
vuurbolle in die lug bewonder het.
Stukkie angswekkende geskiedenis was
toe die dinamiet trein ontspoor het tussen Kameel en Wirsing-halte. Dit was ‘n
groot en gevaarlike gebeurtenis. Die ploegbaas moet die trein dag en nag
bewaak. Die spoorpredikant lees 805myl van Kaapstad met ‘n hoogte van 4449
voet.
In 2001 stuur Ma Floss vir ons ‘n brief
en daarin skryf sy dat haar skrywe kom van die huise tussen treine en tussen
spore. Ma het na haar hemelse woning verhuis op Kersdag 2017.
Ma Floss en Pa Gerald het in
stasiemeesterhuis gewoon, sedert 2001. Na Pa sy aardse woning verlaat het, het
Ma aangebly. Sy was sommer die Stasiemeester of is dit dalk die Burgermeester.
Haar tuin was haar trots en menige dae het sy rustig in haar tuin gewoel en
gewerk.
Nou is dit ons en Ma se huise en ons
het dit goed gedink om die klein kompleksie na ma te vernoem op ‘n heel ander
wyse.
Kameel : Huise tussen Treine en tussen
Spore
Baie dae het ons die treinspore
ge-ondersoek en bewonder. Onthou nog ons eerste besoek aan ons ouers toe Ma
verskoning maak vir die klein veldmuisie wat in die huis is. Twee uur die
oggend word ons wakker van ‘n snaakse geluid. Dit was nie die veldmuis nie maar
‘n trein wat verby gegaan het. Nodeloos om te sê die veldmuis het ons nooit
gepla nie.
Ek onthou Pa Gerald se ontsteltenis toe
hulle een middag van Vryburg gekom het en daar was twee trekkers met kettings
aan wat die stasiegebou platgetrek het. Die kelder met al die papier van baie
jare is aan die brand gesteek en dit het vir dae gebrand. Pa kon nooit ophou
praat hoe onnodig dit was nie. Ja vandag lê daar nog steeds van die bourommel
van die stasiegebou. Soos dit in ons tye gaan word dinge verwoes maar daar bly
altyd ‘n getuienis agter.
Al getuie wat nog staan waar die stasiegebou eens pronkerig die treine ingewag het. |
Ek onthou ouma Hester se Café reg langs
die spoorlyn. Dit was die plek waar ons menige dae na skool gaan kuier het.
Ouma het so ‘n glas toonbank gehad met ons gunsteling lekkers agter die glas.
Daar was appelkose, Wilson toffies en suurtjies. Elke jaar wanneer ouma op
vakansie gegaan het, het Ma die Café ge’run’. Dit was vet pret vir ons
Finchampies. Wanneer daar ‘n groot bederf was het ons Marie beskuitjies met
kondensmelk gekry. Paul wat die kok was het ons bederf met allerhande lekker
geroosterde broodjies. Ouma se stoele en tafels het nuwe tafeldoeke en
kussingtjies gekry en ons kon sommer so tussen die broodjies huiswerk doen. Later
van jare het die kafee toegemaak en die is ook gesloop.
Die winkel op Verkykerskop het my dadelik aan my ouma se Cafe laat verlang. |
Klein tyd het ons met die trein gery
tot by Devondale. Vir die lekkerte het Ma vir ons padkos gepak. Dan was ons
passasiers op die trein na die Landsdienskampe van daardie jare. Jy moes jou
eie bedgoed saamvat. Ma het ons toegerus met sulke “fancy” kombers bande. Nogal
egte leer. Die nagmerie het begin wanneer ons moes terugkom en die beddegoed
kon nie weer in die bande pas nie. Dit was altyd ‘n spesiale uitstappie. Die
tikketak van die treinwiele op die spoor is iets wat altyd met my sal bly.
In ons kinderdae was Oom Jan en
Ta’Bettie die Stasiemeester. Die hele familie was groot vriende en kuiertye is
aangedui met die rooi en wit ranggeer ligte. Wanneer die rooi lig geskyn het
het hulle nie kom kuier nie, maar wanneer die wit lig geskyn het was hulle
oppad.
Het jy al ooit na die detail van ‘n
spoorlyn gekyk? Elke stuk yster vertel sy eie storie.
Vandag is die treine min en is daar
vele stiltes tussen die kom en gaan van die treine. Die wissels en afstandborde
vertel hul eie storie
Ek onthou die dag toe Ma en Tant Lena
die Golf op die grondpad omgegooi het. Dit was naby Devondale. Ma het ‘n lelike
sny op haar kop gehad. Tant Lena het die blikkie koeldrank op haar sakdoek
gegooi en probeer om die bloeding te stop. Dit was tervergeefs. Daarna het die
Oud Cologne te voorskyn gekom en dit het in ‘n mate gehelp. Tant Lena het haar
sakdoek by die venster uitgewaai toe sy hoor dat daar ‘n trein aankom. Die
treindrywer het op Kameel vir Pa laat weet dat daar ‘n Golf langs die pad op sy
dak lê.
Tannie Glen het die poskantoor beman
vir baie jare. Dit was ‘n een man poskantoor en sy het alles gedoen. Onthou die
koper pype wat bo-op die toonbank was. Terwyl Tannie Glen daar gewerk het het
sy gebrei. Haar dogters het die mooiste handgebreide sokkies skool toe gedra en
in die winter het hulle fair isle truie gedra.
Die ou spoorkruising was omtrent daar
waar die Eskom paal vandag staan. Ons het as kinders graag op die wa en trekker
na die stasie gery. Op ‘n dag het ek en Ouboet die wolbale – wat oppad was na
die goedereloods – vergesel. Die wolbale moes per trein na Port Elizabeth gaan
waar die jaarlikse wolveiling gehou is. Die wolbale is afgelaai en ons het die
pad terug plaas toe gevat. Janboel was die Fordson trekker se bestuurder. Daar
was twee treine wat reeds in die stasie gestaan het. Stadig het die wa en
trekker oor die spore gekruip en skielik “out of nowhere” het ‘n derde trein
die stasie ingekom. Kardoef en die Fordson was in twee. Middeldeur. Gelukkig het
niemand seergekry nie. Ek glo nie eers ek en ouboet het regtig geweet wat
gebeur het nie.
Groetnis
Hennie & Sandra
No comments:
Post a Comment