Die skrywe van Die Ware Boom het jare 
gelede in die Tuishuis verskyn. 
Vandag deel ons dit met die toestemming van Johann
 met almal.
Kersfees op Mont Pelaan deur Johann Lodewyk Marais
Die vendusiekrale
Vir ons het die groot dag uiteindelik 
begin aanbreek wanneer ‘n boom die middag voor die “Kersboom” op Meester
 se plaas Sunnyside, in die rigting van Memel, gehaal moes word. 
Gewoonlik was die wêreld daardie tyd van die jaar, teen vroeg-Desember, 
grasgroen en die Drakensberge sagte, blou kurwes in die verte, met 
haelwit wolke wat oor die aarde uitblom. Dan het al die seuns agterop 
die bakkie saamgery en om die verlate ou opstal help soek na ‘n geskikte
 dennetak om af te saag. Hierdie tak – volgens Marthinus Versfeld een 
“op die toppie waarvan die Bethlehemster van blinkpapier mooi sal 
vertoon, met genoeg takkies om presente vas te maak” – is dan by die 
saal afgelaai waar die vrouens dit die volgende dag tot ‘n behoorlike 
Kersboom versier het.
Ja, die Kersboom moes ‘n denneboom wees, 
soos dit in talle lande van die wêreld, veral in Europa, ook gebruiklik 
is. Ofskoon die sielkundige Carl G. Jung beweer dat talle mense hierdie 
tradisie navolg sonder dat hulle die ware betekenis van die Kersboom 
ken, het die Kersboom klaarblyklik sy oorsprong in sekere gebruike deur 
die Egiptenare, Chinese en Hebreërs gehad. Dit het die ewige lewe 
versimboliseer. In later jare het die ou volke van Europa op 25 
Desember, wanneer die son op sy flouste is, groot vure aangesteek en 
hulle huise met immergroen plante versier. Hulle het geglo dat die 
sterwende son deur die vuur tot nuwe lewe opgewek word en die lewe van 
die verborge saad deur die ritueel van groen takke verseker is.
Die eietydse 
Kersboomtradisie kan veral na Duitsland teruggevoer word, waar dit teen 
die begin van die negentiende eeu reeds ‘n instelling was.
Daar is seker min 
mense wat nie met nostalgie aan die “Kersbome” uit hulle kinderjare 
terugdink nie. Maar hoe leef hierdie tradisie vandag voort? Ons 
samelewing het al hoe meer materialisties geword, en die sakewêreld 
huiwer nie om ook Kersfees ter wille van finansiële gewin uit te buit 
nie: dink maar aan die skaamteloos soetsappige klokkies en klingels wat 
reeds van voor einde Oktober jaarliks aan ons opgedring word. Hierdie 
uitbuiting word deesdae tog toenemend raakgesien en mense begin hulle 
hierteen uitspreek.
Meester Olivier het waarskynlik ook nie 
presies geweet wat die “ware betekenis” van die Kersboom is nie, want hy
 het ons nooit daarvan vertel nie, ook nie wanneer hy jaarliks die 
Kersverhaal voorgelees het voordat die geskenke uitgedeel is nie. 
Deurdat hy ons saamgeneem het om ‘n tak te gaan uitsoek en te help 
afsaag, het hy ons egter die geleentheid gegee om ‘n egte ervaring mee 
te maak, wat waarskynlik op ons ‘n veel groter en blywender indruk 
gemaak het as wat ‘n duisend woorde sou.
Miskien sal ons en ons gesinne Kersfees 
ook veel intenser beleef indien ons dit met egte dinge uit die omgewing 
soos ‘n ware Kersboom, kan vier. 
Tot volgende keer
Tot volgende keer
Hennie & Sandra






 
 
No comments:
Post a Comment