Wednesday 5 January 2022

Kameel Stoepstorie: Die Lighuis


Die lighuis vir die Indian Myna

Dis warm en droog in die Noord-Wes Provinsie van Suid-Afrika. Ons het nog nie ‘n dag beleef onder 30oC nie. Daar is sulke warm Weste winde wat waai en alles verdor. Die boere se vee moet voer kry en elkeen maak ‘n plan en kyk na die wolke en buig laag en pleit by die Groot Genade vir reën op die regte tyd.



So in die week sit ons op die stoep en warm kry. Ons bekyk die voëls in die tuin. Die Indian Myna paradeer ook op en af en intimideer die ander geveerde gaste. Dit is toe dat ons opmerk dat die Myna kort-kort hoog, na die ou Spoorweë Werfligte, toe vlieg. Jou werklik daar is ‘n gat in die lig en die paartjie is besig om huis op te sit binne in die lig. Die ligte staan so ongeveer 10 meter hoog.


Ons hou hulle dop en besluit dat die ligte seker ‘n tipe broeikas vir Myna’s moet wees. Dis ‘n heen en weer gevlieg en alles waarop hulle beslag kan lê word ingesleep in die nes. Net so skielik as wat die gewoel begin het, kom dit tot ‘n end. Dan word kossies aangedra, wat weer bydra tot ‘n ander bedrywigheid.



Vroeg oggend is daar egter ‘n lawaai van ‘n ander aard. Die lighuis is in rep-en-roer. Ons opmerking is dat daar huismoeles is. Moeksie is nie tevrede met die omstandighede en vereis ‘n lugversorger. ‘n Geskree en gegil wat baie benoud klink.



Jou werklik daar hang groot vere by die gat uit. Die een Myna is binne-in die lig en die ander buite. Altwee gaan te kere soos besetenes. Die vraag by ons ontstaan sou dit nou deel van die landsbesetting-sonder-vergoeding, wat op almal se lippe is, wees?



Die Myna’s gaan nie net sommer oorgee nie. Beide veg vir hul toekoms. Die aanval duur ongeveer 4 ure in ‘n temperatuur van 35oC. In hul lighuis was dit verseker baie warmer. Dan teen middag-ete kom daar ‘n wending. Die nes is nou weer toeganglik vir beide die Myna’s. Kossies word aangedra en die heen en weer gevlieg neem toe. Die vrede daal weer op Mnr en Mev Myna se Lighuis.



Nou wonder ons wat was die bohaai dan oor. Die antwoord kom sommer skielik wanneer twee voëls uit die lig aarde toe kom. Dit het my aan ‘n ou oorlog-fliek laat dink wanneer die Fokkers so op hul vyande afgeduik het. Die grootste van die twee land met ‘n plof onder die lig. Dis ‘n heelwat groter voël.

Dit is ‘n Koekoek.


Die Afrikaanse koekoek is ‘n somertrekvoël. Dit is tussen 30 – 32cm lank en 95 – 112g groot. (African Cuckoo). Die voël is ‘n broeiparasiet en gebruik ander voëls as broeigasheer.

Hierdie jaar was die koekoek weer hier. Meneer en Mevrou Koekoek was uitgeslape. Meneer het die Myna egpaar besig gehou en Mevrou Koekoek het soos blits in die lighuis verdwyn en weer uitgekom. 
Die Indian Myna egpaar het die eier uitgebroei na 12 dae en die kleintjie het vinnig uit die lighuis sy verskyning gemaak. Die skree was anders as die van 'n Myna. So by my kool dit was kostyd vir 'n klein gevlekte koekoek. (Great Spotted Cuckoo). Vinnig het hy groter geword en was hy binnekort groter as die Myna. Dink net hoe trots was Meneer Myna, want sy gene was sterk!!!  






Tot volgende keer
Sandra en Hennie

No comments:

Post a Comment